Ongeag hoe ver jou swangerskap was, hierdie is ‘n veilige plek waar jy jou babatjie kan onthou, betreur en ondersteuning kry van ander ouers.

Liewe ouers

Ons huil saam met jou oor jou babatjie wat jy nie in jou arms kan vashou en vertroetel nie. Is jy deel van die wingerdstokke wat verherfs of selfs verwinter het? Is jou druiwetrossie van jou weg geneem en al wat van jou oorbly is die rou plek waar die trossie(s) eens was? Weet net, jy is nie alleen nie. Hier is baie van ons om jou, wat net so stilletjies in die wingerd verlep het.

Dit is normaal om te rou. Jy mag rou. Jy mag kwaad wees. Jy mag voel asof niemand jou verstaan en jou seer deel nie. Jy mag deur hierdie herfs- en winterseisoen gaan op jou eie pas. Op jou eie manier.

Maar jy hoef dit nie alleen te doen nie. Ons is ook hier. Kyk net rondom jou.

Welkom hier by ons veilige ondersteuningsnetwerk. Hier kan jy jou eie verhaal vertel, dagboek hou van hoe jy elke dag voel en van die uitdagings jy moet deurmaak. Jy hoef nie jou storie of dagboek of uitdagings met ander te deel as jy nie so voel nie. Jy kan dit alles privaat hou.

Anders kan jy deel word van die groep wat wel meer vrede kry deur hulle stories te deel. Of jy kan aan ons forum deelneem en ander ondersteun of gedagtes deel. Daar is ook ʼn opsie om foto’s te plaas van jou sonars, die babakamer of jou baba se eerste teddiebeer. Hier kan jy jouself wees.

Of dit ʼn miskraam buite jou beheer was of ʼn stilgeboorte, en of julle weens gesondheidsredes die swangerskap moes beëindig, dit maak nie saak nie. Dit maak nie jou seer minder of makliker nie. Almal is ewe welkom hier by ons.

lees ander verhale
line
footer
Copyright 2012 My Miskraam
Site by: Stdio